Hoe rustig stap hy aan
die edel jukgediert!
hoe waggel hy die kop
met horings swaar gesierd,
en stewig ingestrop!
Hoe rustig stap hy aan
so sonder tuiggetooi,
met natte dowwe plof;
syn vel trek plooi op plooi
rondom die breë skof.
So stap hy rustig aan
vol kalme majesteit
en ongesmukte prag -
beeld van stilswyendheid
én selfbewuste krag.
Steeds stap hy rustig aan
met rustelose drang,
by kou en sonnegloed;
maar snags versnel syn gang
om dagversuim te boet.
Nog stap hy rustig aan
als dage kommervol
doen bleek en krul syn gras;
hy skeer die hardste pol
en suip die modderplas.
Stap, stap dan rustig aan
en deel die trekkerslot;
die skaarste en owervloed,
daar in die land, waar God
ook is vir osse goed!