Miskien, toentertyd,
was daar tafels gedek
by Stonehenge:
kliptafels
met godewette op;
'n banket
van smeulende offerandes
in geplette bordjies
wat rondgedra is
in 'n kring van feromone
- soos popliedjies
wat rook uit 'n samekoms-met-handradio's,
van die maagde.
Die windjie slinger
en neurie deur die gras,
soos borduurwerk sou
met some langs,
en die skielike weerlig
moker alles soos 'n neusbrug
in, tot ín die tydlose skerwe
van die erdewerk;
waar argeoloë
duisend jaar later 'n prentjie bymekaar skraap
van ene Pete Townshend,
van The Who.
(....)
Min sou mens dink dié formule
het Afrika toe gehink
oor die tydelike vlaksee -
of was die rigting andersom?
Dáar
sien ek die tiara,
die halfsirkel-waterval
by Victoria,
wat al hoe dieper in die aarde sink,
en skitterend na binne kolk
sonder om iets
sogenaamd koninklik en verswelgend na buite
uit te vaardig.
(...)
Ek staan langs dié heelal
van malende druppels
waar 'n sproeiing
van moontlikhede dryf
soos stuifmeel bo die vergetelheid
en ek gooi twee klippies af.
Een: Wat is beskawing?
Twee: Waar lê ons oorsprong?
Die orakel eggo terug:
"Eindeloos.
Nóg kant nóg wal:
in 'n werweling
weens die onbeslisbare beroerings
van suurstof-met-water."
En só sien ek,
onbemiddeld,
die helder oplossing.